“Ek besit 20% aandele in ‘n privaatmaatskappy waarop ek ‘n paar jaar gelede ingekoop het. Die meerderheid-aandeelhouers het ‘n sterk invloed op die direkteure wat besluite neem, wat uit my oogpunt nie altyd in die beste belange van die maatskappy, of my eie as ‘n minderheid-aandeelhouer in die maatskappy is nie. Watter remedies is tot my beskikking?”Aandele in ‘n maatskappy verleen aan ‘n aandeelhouer stemregte/stemmag binne ‘n maatskappy, met die persentasie van aandele gehou wat die omvang van sodanige stemregte/stemmag verteenwoordig. In jou geval, as slegs ‘n 20%-aandeelhouer, is hierdie aandeel gewoonlik nie voldoende om die nodige stemmag aan jou te bied om die gang van sake waarop die meerderheid-aandeelhouers van die maatskappy besluit het, te verander nie.
Vir geldige aandeelhouervergaderings en besluite om plaas te vind, moet die vereistes bevat in Artikels 61 tot en met 65 van die Maatskappywet 71 van 2008 (“Maatskappywet”) nagekom word, en jou beginpunt as aandeelhouer is om vas te stel of hierdie formaliteite nagekom is. Daar moet op gelet word dat sommige van hierdie bepalings deur ‘n maatskappy se akte van oprigting (AVO) gewysig kan word, en sal dit ook hersien moet word. Dikwels word die persentasie van stemregte wat benodig word vir sekere tipes resolusies om geneem te word, in die AVO voorgeskryf.
Waar geldige besluite geneem word, maar ‘n minderheid-aandeelhouer is van mening dat ander aandeelhouers onderdrukkend is en hul belange onregverdig minag, het hul die opsie om die hof te nader en aansoek te doen vir verligting in terme van Artikel 163 van die Maatskappywet. Artikel 163(1) sit gevalle uiteen in terme waarvan ‘n aandeelhouer of direkteur die hof kan nader, en kan die volgende insluit:
- Handeling of versuim wat onderdrukkend of onredelik benadelend is ten opsigte van die belange van die aansoeker, of wat die belange van die aansoeker onredelik verontagsaam.
- Die sake van die maatskappy word bedryf op ‘n manier wat onderdrukkend of onredelik benadelend is ten opsigte van die aansoeker, of wat die belange van die aansoeker onredelik verontagsaam.
- Die bevoegdhede van ‘n direkteur of voorgeskrewe beampte van die maatskappy is uitgeoefen op ‘n manier wat onderdrukkend of onredelik tot nadeel van die aansoeker is, of die belange van die aansoeker onredelik verontagsaam.
Artikel 163(2) sit verskeie remedies uiteen, insluitend tussentydse of finale bevele, wat die hof kan maak. Dit kan insluit verhindering van die optrede waaroor gekla is, om die maatskappy onder toesig te plaas en te begin met ondernemingredding-verrigtinge, om opdrag te gee dat die maatskappy sy AVO wysig of ‘n eenparige aandeelhouersooreenkoms skep of wysig, om opdrag te gee vir die uitreiking of uitruiling van aandele, die aanstelling van direkteure bykomend tot bestaande direkteure, opdrag dat die maatskappy of enige persoon ‘n aandeelhouer enige deel van die teenprestasie vir aandele of die gelykstaande waarde daarvan betaal, die tersydestelling van ‘n transaksie waartoe die maatskappy partydig is en betaling van gepaste vergoeding, ens.
Ons howe sal nie altyd aan ‘n minderheid-aandeelhouer verligting toestaan nie, en tot ‘n mate behoort ‘n minderheid-aandeelhouer bewus te wees van hul minderheidstatus en dat daar gevalle mag wees waar die meerderheidaandeelhouers ‘n besluit neem waarmee hy nie saamstem nie. ‘n Aansoeker kan slegs suksesvol wees indien hul kan aandui dat die meerderheid-aandeelhouers van die standaarde van regverdige handeling afgewyk het, of hul kan staat maak op onbillike diskriminasie teen die minderheid.
Wetgewing bied beskerming aan minderheid-aandeelhouers, hoewel dit nie onbepaald is nie. Minderheid-aandeelhouers moet daarom proaktief wees en versoek dat sekere bykomende maatreëls in die maatskappy se AVO en aandeelhouersooreenkoms ingebou word wat, tot ‘n sekere mate, groter beskerming aan die minderheid-aandeelhouers kan bied. Sodanige maatreëls sluit die volgende in:
- Die insluiting van voorkeurregte. Dit sal verseker dat die aandele eerste aan die bestaande aandeelhouers beskikbaar gestel moet word voordat dit aan derde partye verkoop word. Dit verhoed die afwatering van minderheid-aandeelhouers se aandeelhouding in die maatskappy.
- Die voorsiening van spesiaal-beskermde sake. Die aandeelhouersooreenkoms en/of AVO kan spesifieke sake uiteen sit waarop slegs opgetree kan word as die minderheid-aandeelhouers daartoe instem.
- Die verteenwoordiging op raad- en aandeelhouervlak. Die aandeelhouersooreenkoms en/of AVO kan daarstel dat minderheid-aandeelhouers by aandeelhouer-vergaderings teenwoordig moet wees voordat ‘n kworum bereik word vir ‘n vergadering van aandeelhouers. Bepalings kan verder ingesluit word wat stipuleer dat elke aandeelhouer, ongeag sy/haar/sy stemregte, ‘n direkteur mag aanwys tot die raad van die maatskappy.
- Die insluiting van ‘n “tag-along”-klousule. Die insluiting van sodanige klousule sal verseker dat minderheid-aandeelhouers die kans gegee word om deel te neem aan enige verkope waarin die meerderheid-aandeelhouers deelneem, en dat minderheid-aandeelhouers nie gedwing word om aandeelhouers te bly in ‘n maatskappy met ‘n nuwe meerderheid-aandeelhouer nie.
- Die sluiting van ‘n poel-aandeelhouersooreenkoms. Minderheid-aandeelhouers kan hul aandele saamgooi en gesamentlik as eenheid stem om hul stemposisie te versterk.
- Die afwisseling van die standaard persentasies soos uiteengesit in Artikels 64, 65(8) en 65(9) van die Maatskappywet.
‘n Minderheid-aandeelhouer word tot ‘n sekere mate wetlike beskerming gebied. Maar voordat jy begin litigeer, is dit raadsaam om ‘n sagter invalshoek te neem en die meerderheid-aandeelhouers met voorstelle te nader vir die insluiting van groter minderheidsbeskerming in die stigtingsdokument. Slegs indien dit nie slaag nie en die gedrag voortduur, sal dit raadsaam wees om jou prokureur te raadpleeg rakende die meriete in die neem van herstellende stappe dienooreenkomstig die Maatskappywet.