Staan jy op trou? Oorweeg die aanwasbedeling

21 August 2012 2190

Die troue is om die draai, die trourok hang in die kas, die pak is gekoop en die blomme is gereël. Nou vir die laaste item op my lys – afspraak met die prokureur om uit te vind uit oor die ‘HVK’ en die aanwasbedeling wat almal my bly van vertel.

Die “aanwasbedeling” of meer korrek, waar jy getroud is buite gemeenskap van goedere met die aanwasbedeling, het as ‘n opsie beskikbaar geword vanaf 1 November 1984 vir paartjies om met hul onderskeie boedels (huweliksgoedere) na huweliksbevestiging te handel. Die posisie vandag is dat elke paartjie wat trou outomaties binne gemeenskap van goedere getroud sal wees (hulle boedels word vermeng) tensy hulle die ‘binne gemeenskap’ gedeelte uitsluit deur die sluit van ‘n spesifieke kontrak genoem ‘n huweliksvoorwaardekontrak of HVK. Hierdie kan slegs gesluit word voor ‘n prokureur wat ook ‘n notaris is.

Julle wil nie julle aparte boedels een maak nie, maar julle wil ook nie alles heeltemal apart hou nie. Billik is billik en julle erken dat gedurende die bestaan van die huwelik elke party sal bydra tot voordeel van die huishouding. Julle wil dus ‘n stelsel hê wat hierdie bydraes erken selfs al is dit finansieël verskillend. Dit is hier waar die aanwasbedeling vir paartjies ‘n goue middeweg bied tussen heeltemal binne gemeenskap of heeltemal buite gemeenskap van goedere getroud wees.

Die aanwasbedeling bepaal dat by ontbinding van die huwelik (deur egskeiding of dood) elke party in die aanwas (groei in bates) van die ander party se boedel sal deel. Hierdie is ‘n billike manier om beide partye te vergoed. Belangrik, die partye deel slegs in die aanwas of “netto wins” van die ander party se boedel en nie in enige verliese nie.

Hoe sal hierdie ‘aanwas’ bereken word? Die berekening van aanwas (of netto wins) kan kompleks wees en jy moet die verskillende komponente van die berekening mooi verstaan. Die aanwas word bereken deur die aanvanklike waarde van die boedel af te trek van die eindwaarde daarvan, na voorsiening gemaak is vir toelaatbare aftrekkings. Toelaatbare aftrekkings kan byvoorbeeld insluit bates soos ‘n bemaking of skenkings wat ‘n spesifieke gade toeval.

Die aanvanklike waarde van ‘n boedel (totale bates minus laste op datum van huweliksluiting) word vasgestel in die HVK en bevestig gevolglik die aanvanklike waarde vir beide boedels waarop enige groei by ontbinding van die huwelik bereken kan word. Belangrik, as jy geen aanvanklike waardes in die HVK insluit nie, sal dit geag word dat die aanvanklike waardes nul is. Verder word die aanvanklike waarde op datum van berekening in ooreenstemming met die Verbruiksprysindeks aangepas om sodoende ‘n akkurate Randwaarde tot op datum daar te stel.

 

Om die bogenoemde te illustreer kan die volgende praktiese voorbeeld gebruik word. Piet en Sannie trou na 1 November 1984 en besluit op die insluiting van die aanwasbedeling. Piet verklaar die aanvanklike waarde van sy boedel in hulle HVK as R200 000.00 en Sannie haar aanvanklike waarde as R50 000.00. By ontbinding van die huwelik (Piet is oorlede) is die waardes van hul onderskeie boedels die volgende: Piet R2 000 000.00 en Sannie R200 000.00. Op datum van hul huwelik was die Verbruiksprysindeks 150 en op datum van ontbinding van die huwelik 300.

Piet se boedel:

 

 

Netto waarde (bates min laste) by ontbinding

 

2,000,000.00

Minus: Aanvanklike waarde verklaar in HVK

 200,000.00

 

          Aangepas met Verbruiksprysindeks:
          300 X R200,000 ÷ 150

 

   400,000.00  

Netto waarde van aanwas in Piet se boedel (A)

 

1.600,000.00

Sannie se boedel:

 

 

Netto waarde (bates min laste) by ontbinding

 

  200,000.00

Minus: Aanvanklike waarde verklaar in HVK

50,000.00

                  -  

Aangepas met Verbruiksprysindeks: 300 X R200,000 ÷ 150

 

100,000.00

Netto waarde van aanwas in Sannie se boedel (B)

 

   100,000.00

Verskil tussen aanwas A en B: (A) 1,600,000.00 - (B) 100,000.00

1,500,000.00

 

Sannie is geregtig om die helfte van die verskil in aanwas van Piet se boedel te eis (1,500,000.00 ÷ 2)

 

  750,000.00


Alhoewel Sannie se boedel nie dieselfde groei as Piet se boedel getoon het nie, kwalifiseer Sannie steeds vir die helfte van die netto groei van hulle onderskeie boedels en demonstreer dus hoe die aanwasbedeling die goue middeweg verskaf tussen niks en alles deel.
Share: